Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Hoender-&-gortsop & appelskons

Aug 7, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart
Hoender-en-gortsop
Volkoringdrupskons met Pink Lady® appels
Halo waterbottel

Voedsame kos vir die hele gesin – as dit jou uitkyk op gesinsetes kan wees, gaan jou gesin vir seker lekker en gesond eet. Augustus is nie net bekend as Vrouemaand nie, maar dis ook kindergesondheidsmaand, so om vir jou gesin voedsame kos te maak, is beslis ook deel van ons verantwoordelikheid teenoor ons kinders. Baie mense is steeds onder die indruk dat dit duur of moeilik is om ’n gesonde leefstyl te volg en gesonde kos te eet.

Met die reeks van drie resepteboeke wat Pharma Dynamics ontwikkel het, Cooking from the heart, is daar ’n groot verskeidenheid resepte wat juis die teendeel bewys. Ons kan met alledaagse bestanddele en geurmiddels, die regte gaarmaakmetodes en ’n lekker resep sonder veel moeite elke dag geurig en gesond eet. Vandag se hoender-en-gortsop is ’n heerlike maaltyd en soos met heelwat sopresepte, is daar iets uit al die belangrike voedselgroepe ingesluit. Dit is dus sommer ’n ete-in-’n-bakkie.

Die hoender in die sop, is borsies aan die been, wat in die kookvloeistof gaargemaak en dan ontbeen word. Deur die sop só voor te berei, kook jy sommer terselfdertyd ’n hoenderaftreksel, sonder om ’n gekoopte aftreksel te gebruik. Die gort is ’n bestanddeel wat die sop lekker dik en vullend maak en die verskeidenheid groente dra by tot die voedsaamheid van die sop. Die Cooking from the heart resepte maak meestal gebruik van natuurlike geurmiddels, soos vars kruie, Rooibostee en dikwels ook gemmer, brandrissie en knoffel en dan natuurlik suurlemoensap. Aangesien die gort reeds ’n vorm van stysel is, is dit ’n beter keuse om nie die sop nog met brood ook te eet nie – ’n maklike manier om seker te maak dat daar nie te veel stysel (koolhidrate) in die maaltyd is nie. Dit is sommer ook ’n praktiese manier om juis in die winter te keer dat mens gewig optel omdat jy te veel stysel eet. Sit die sop liewer met blokkies avokado voor – dit klink dalk vreemd, maar is regtig lekker en dit pas perfek by die geure van die sop.

’n Skon of botterbroodjie is iets waarvoor baie mense lief is, maar dinge kan ook maklik met die voorbereiding skeefloop en dan is dit ’n toegeslane of droë gebakkie. Hierdie maklike resep noem ek ’n drupskon, want die deeg is heelwat loperiger en kan sommer met ’n lepel op die bakplaat geskep word. Jy hoef nie te sukkel met ’n meer delikate deeg wat uitgerol en uitgedruk moet word nie. Om dit so bietjie interessanter te maak, het ek blokkies vars appel daarin gesit. Maar dis nie sommer net enige appel nie – Pink Lady® appels is perfek!

Die mooi pienk appels is nie net soet en sappig as jy dit vars eet nie, maar juis ideaal om mee te kook en bak. Die natuurlike soet smaak bly behoue wanneer dit gaar is en die appel blus ook nie wanneer dit bv. so gebak word nie – beslis nie iets wat van alle appels gesê kan word nie. Die soet smaak wat dan reeds in die skon is, maak dit onnodig om dit met konfyt voor te sit. Net ’n bietjie gerasperde wit cheddarkaas en ’n smeerseltjie botter is genoeg, appel en kaas is altyd ’n lekker kombinasie. Pink Lady® appels se skil behou ook tot ’n groot mate die kleur wat die skon sommer meer aptytlik laat lyk.

Pink Lady® appels as handelsmerk word ook gereeld gesien by geleenthede vir Vrouedag, so hou gerus jou oë oop en kyk bietjie waarby hulle alles betrokke is en waar hulle ’n verskil maak.

Ek gebruik dikwels volkoringmeel vir gebak, soos ook vir die pannekoeke van verlede week. En as ek steengemaalde meel kan gebruik, selfs nog beter. Die gebak het dan ’n interessanter en amper neuterige geur, met beslis meer vesel en voedingswaarde as meer verfynde koekmeel. Om seker te maak dat die tekstuur van iets soos hierdie drupskons wel nog sag en lig is, is eiers ’n baie belangrike bestanddeel. Dit bind natuurlik die ander bestanddele saam, maar dra ook by tot die verdere voedingswaarde van enige gereg waarin dit gebruik word. In die skonresep word drie groot Nulaid eiers gebruik om seker te maak dat alles saamgebind word, maar steeds ’n ligter tekstuur aan die skons te gee. Die eiers is ’n uitstekende kombinasie met die karringmelk om hierdie skons regtig maklik te maak om voor te berei.

Met gebak is dit altyd belangrik om die eiergrootte wat in die resep aangedui word, te gebruik. Dit verseker dat daar nie te min of te veel vloeistof of bindmiddel ter sprake is nie, want met gebak is dit baie belangrik om met die korrekte hoeveelhede te werk, anders kan dit die eindresultaat nogal affekteer. Nulaid het ’n wye verskeidenheid groottes eiers, so gaan loer gerus op hul webwerf wat alles beskikbaar is en kies die groottes wat vir jou gesin se behoeftes die beste gaan werk.

In die kouer wintermaande doen ons baie om warm te bly en vergeet soms om genoeg water te drink. Sonder dat ’n mens dit dalk besef, bly water in die wintertye ook belangrik. As jy gereeld in ’n verhitte vertrek is of voor ’n kaggel of verwarmer sit, kan dit jou nogal dors laat voel, omdat die warm lug jou letterlik ‘uitdroog’. Onthou dus om selfs in die winter altyd ‘n waterbottel deel te maak van jou leefstyl. As jy dus ’n bottel byderhand het wat maklik is om saam te dra en vol te maak, onthou mens dit beslis meer. Dit geld natuurlik vir almal in die gesin, so kinders moet selfs in die winter ’n waterbottel as deel van hul kosblik kry.

Halo waterbottels is hersirkuleerbaar, maklik hervulbaar en ideaal om oral saam te neem, want dit is van ’n stewige, maar veilige plastiek gemaak. Daar is twee groottes beskikbaar, ’n 750 ml en 350 ml en wel in vier mooi helder kleure. Die bottels word reeds gevul, in supermarkte verkoop en jy kan op hul webwerf gaan kyk wat die naaste verspreidingspunt aan jou is. Of bestel dit via hul webwerf.

Resepte

Hoender-&-gortsop

Resep uit Cooking from the heart 3
Lewer 4 porsies

Bestanddele

20 ml (4 t) olyf- of avokado-olie

3 hoenderborsies aan die been, vel en oortollige vet verwyder

2 uie, gekap

4 wortels, geskil en in blokkies gesny

4 selderystingels met die blare, gekap

4 murgpampoentjies, in blokkies gesny

2 liter (8 k) sterk Rooibostee

250 ml (1 k) water

5 takkies vars roosmaryn

2 lourierblare

250 ml (1 k) rou gort

1,2 ml (¼ t) sout

suurlemoensap en swartpeper na smaak

45 ml (3 e) gekapte vars pietersielie

Metode

1. Verhit olie oor matige hitte in ’n groot kastrol (’n AMC 24 cm High is ‘n lekker grootte). Braai hoender tot goudbruin, maar nie gaar nie. Skep uit.

2. Soteer die uie, wortels, seldery en murgpampoentjies in dieselfde kastrol tot verbruin.

3. Voeg hoender, tee, water, roosmaryn, lourierblare, gort en sout by. Verlaag die hitte. Prut met ’n deksel vir 20 minute of tot die hoender gaar is.

4. Skep hoender uit. Prut die sop vir nog 40-45 minute of tot die gort sag is.

5. Ontbeen die hoender en sny die vleis in kleiner stukkies. Roer die hoender weer by die sop sodra die gort gaar is. Geur na smaak met suurlemoensap en peper.

6. Roer pietersielie by en sit warm voor.

Wenk

1. Avokado sal lekker saam met die sop wees, veral as jy brood as bykomstigheid by sop, probeer vermy.

Volkoringdrupskons met Pink Lady® appel

Lewer 12 groot of 15-20 kleiner skons

Bestanddele

560 ml (2¼ k) steengemaalde volkoringmeel

10 ml (2 t) bakpoeier

60 ml (60 g) koue botter, in blokkies gesny

1 Pink Lady® appel met die skil, in klein blokkies gesny

3 groot Nulaid eiers, geklits

250 ml (1 k) karringmelk

5 ml (1 t) vanieljegeursel

Metode

1. Voorverhit oond tot 200 °C. Voer twee bakplate met bakpapier uit. Strooi ’n bietjie ekstra meel oor die bakpapier.

2. Plaas die droë bestanddele in ’n groot mengbak en vryf die botter met jou vingerpunte of met ’n deegsnyer in tot dit soos broodkrummels lyk. Roer die appel by die meelmengsel.

3. Klits die eiers, karringmelk en vanieljegeursel saam in ’n aparte mengbak.

4. Skink die vloeistof by die meelmengsel en sny met ’n mes in tot daar net nie meer droë bestanddele sigbaar is nie, maar moenie te veel meng nie.

5. Skep lepelsvol van die beslag op die bakplate. Bak vir 20-25 minute tot goudbruin en gaar.

6. Sit warm of teen kamertemperatuur met gerasperde wit cheddarkaas voor.

Pin It on Pinterest

Share This